Vasgevang in ‘n ‘yoyo’-dieetsiklus? Jy is nie alleen nie

Updated: Nov 4

Vir die grootste deel van my volwasse lewe was ek iemand wat gedurig die een kitsdieet ná die ander gevolg het. In Engels staan dit bekend as yo-yo dieting. Ek kon weke lank op slegs druiwe, of piesangs en karringmelk leef. My dissipline was onwrikbaar. Ek het gewoonlik binne ’n kort tydjie baie en vinnig gewig verloor, maar sodra ek weer ‘normaal’ begin eet het, het die kilo's net so vinnig teruggekom.
My gewig was van so ’n aard dat ander mense nie noodwendig sou agterkom hoe ek eet nie. Ek het nooit uitermatig oorgewig geraak nie, en ek het dit beskou as bewys dat ek dinge ‘onder beheer’ gehad het.
Maar die waarheid was heelwat ingewikkelder. Gedurende die week, veral toe ek nog enkel was, het ek bitter min geëet. Ek het vir myself gesê dat ek gedissiplineerd is. Gefokus. In beheer. Teen Vrydagaand het daardie beheer egter begin kwyn.
Naweke het ’n soort uitlaatklep geword. Ek het geëet wat ek myself gedurende die week ontsê het — veral soetgoed. Ek is eerlik wanneer ek sê dat dit nie noodwendig oor die lekkerte gegaan het nie, maar eerder oor die verligting wat ek ervaar het. En dan het die skuldgevoelens gekom.
Teen Sondagaand was ek teleurgesteld in myself. Ek het myself keer op keer belowe dat ek die komende week ‘beter sou doen’. En dan het Maandag aangebreek, saam met nóg meer beperkings. Vyf dae van bitter min eet. Twee dae van ooreet. En dan het die hele patroon van voor af begin. Ek was jare lank in hierdie kringloop vasgevang.
Op ’n stadium het ek iets ongemakliks besef: die enigste rede waarom ek nooit uitermatig oorgewig geraak het nie, was omdat ek voortdurend probeer vergoed het vir dit wat ek geëet het. My leefstyl was ongebalanseerd en ongesond. Ek het tussen uiterstes beweeg.
As ek terugkyk, wonder ek soms wat daardie patroon aan my liggaam gedoen het. Het die jare waarin ek myself gedurende die week uitgehonger het, beteken dat ek nie altyd vir my liggaam die nodige voeding gegee het nie? Ek wonder soms of my jarelange onreëlmatige eetgewoontes dalk ook ’n rol in my osteoporose gespeel het – hoewel ’n osteoporose-diagnose natuurlik baie moontlike oorsake en bydraende faktore het.
Ek het begin navorsing doen en meer gelees oor hoe die liggaam op langdurige diëte en herhaalde gewigsverlies en -toename reageer. Wanneer ’n mens vinnig gewig verloor, verloor jy nie net vet nie, maar ook water en spiermassa. Wanneer die gewig weer terugkom, kom ’n groot deel daarvan as vet terug. Herhaalde streng dieetpogings is beslis nie ’n gesonde oplossing nie.
Dit is frustrerend om te besef hoe lank ek teen myself geveg het. Veral omdat ek geglo het dat dissipline streng en beperkend moet wees om te werk. In daardie jare was my leuse: Alles of niks.
As ek eerlik is, sien ek steeds tekens van daardie ou patroon in myself. Ek verkies om gedurende die week struktuur rondom my eetgewoontes te hê. Ek moet nog altyd ’n wakende oog oor soetgoed hou. Sjokolade was nog altyd my swakpunt.
Maar mettertyd het my denke verander. Ek eet nie meer onbeheersd soos voorheen nie. Ek eet gereeld en geniet voedsame maaltye. Wanneer ek lus is vir iets soets, eet ek nog steeds twee of drie blokkies sjokolade, maar ek verorber nie die hele 150g-blok nie. Ek het ’n hele kas vol soetgoed, maar my selfbeheersing is goed. Daar is vir my gerusstelling daarin om te weet die soetgoed is dáár, maar dat ek dit nie in een sitting hoef klaar te maak nie.
En toe begin ek oefen. Partykeer wens ek dat ek baie vroeër in my lewe die voordele van oefening ontdek het. Ek geniet dit om die gym te besoek en lekker te oefen, maar ek geniet dit net so baie om in die natuur of langs die see te gaan stap. Dit bring vir my rustigheid en vrede.
Ek het besef dat my liggaam tot soveel meer in staat is as wat ek ooit besef het. En die wonderlike deel daarvan is dat my liggaam my energie en lewenslus teruggee wanneer ek die werk insit.
Die grootste verandering was egter nie net wat ek begin doen het nie, maar ook wat ek opgehou doen het. Ek het opgehou om myself aan die een kant te straf en aan die ander kant te ‘beloon’. Ek het opgehou om tussen uiterstes te beweeg. Ek het opgehou glo dat ek, omdat ek gedurende die week ‘reg’ geëet het, die naweek se chaos verdien het.
Om gesonder te eet en ’n beter verhouding met kos te ontwikkel, het nie oornag gebeur nie. Dit was ’n geleidelike proses van bewuswording. Ek het besef dat ek nie die volgende twintig jaar van my lewe teen my eie liggaam wil veg nie. Ek wil gesond wees. Ek wil sterk wees. Ek wil my liggaam behoorlik voed. Ek wil vrede hê wanneer dit by kos en etenstye kom.
Ek dink ons moet die woord ‘dieet’ dalk met ’n ander begrip vervang: ’n leefstylverandering. ’n Dieet dui dikwels op iets tydeliks — iets wat ons volg totdat ons ons doelwit bereik het, waarna ons weer na ons ou gewoontes terugkeer. Maar wat gebeur dan? Die hele kringloop begin dikwels net van voor af.
’n Leefstylverandering is iets heeltemal anders. Dit behels die aanleer van gewoontes wat ons op die lang termyn kan volhou. Om kos sonder skuldgevoelens te geniet. Om ons liggame behoorlik te voed. Om sterker en gesonder te word, eerder as om net op die syfer op die skaal te fokus. ’n Dieet het ’n einddatum. ’n Gesonder leefstyl is iets wat ons elke dag kan kies, vir die res van ons lewe.
Dit beteken nie dat ons nooit weer sal sukkel of van ons voornemens sal afdwaal nie. Dit beteken bloot dat ons nie elke keer weer van voor af hoef te begin nie. Ons kan eenvoudig die volgende dag weer beter keuses maak.
Dit voel vir my baie meer volhoubaar as enige dieet wat ek nog ooit gevolg het.
Is jy gereed om op te hou om teen jou liggaam te veg? Kom ons begin vandag. Laat weet my in die kommentaar: Wat is die een ding wat jy vandag anders kan doen om jou liggaam te voed en te versorg?
Frannie B. ☕
Het jy hierdie storie geniet? Ek deel gereeld vars inspirasie, slim oefenwenke en leefstylstories spesifiek vir vroue ná 50. Kliek op hierdie skakel en stoor jou gunsteling artikels vir later!



Comments