OM WEEREENS OOR TE BEGIN…

(vir die 47ste keer!)
Ek is een van daardie mense wat altyd in beheer wil wees. Ek is altyd vroeg vir afsprake (mens weet nooit wat op pad soontoe kan gebeur nie). Ek besluit reeds die vorige dag wat ek die volgende dag gaan dra — nádat ek die weerberig noukeurig bestudeer het. Ek beplan die struktuur van my dag in my kop en soms selfs op papier, veral wanneer ek op die punt staan om met ’n nuwe oefenroetine te begin of wanneer ek daaraan dink om my eetgewoontes aan te pas.
En male sonder tal sit ek dan in daardie beplanningsfase vas… vir altyd.
Onlangs het ek besluit om minder sjokolade te eet, want ek is nogal bekend daarvoor dat ek geen moeite ervaar om ‘n 150g blok sjokolade in een sitting te verorber nie. ‘n Blink plan skiet my toe te binne — ek sal twee blokkies sjokolade per dag in die verskillende kompartemente van my pilhouer sit en dit sal my kwota vir die dag wees! En ja — ek het ’n pilhouer vir my sjokolade ook.

Terwyl ek hieroor nadink, vra ek myself af: Waarom nie sommer ’n paar oefenreëls ook bysit nie? Ek is tog mal oor reëls. Toe besluit ek dat ek vyf dae per week gym toe sal gaan (twee dae kardio, twee dae weerstandsoefeninge, en een oefenklas). Ek het ook besluit dat dit nou sommer ‘n goeie idee is om ook ten minste een keer per week in die Helderberg Natuurreservaat te gaan stap, en dan laat ek een dag vir rus toe.
Die waarskuwingsklokke moes eintlik toe al kliphard begin lui het!
Ek skop gewoonlik baie goed af want ek voel opgewonde oor die "nuwe ek" wat te voorskyn gaan tree. Maar die waarheid is, jy kan nie vir elke kinkel in die kabel beplan nie. Baie keer sal iets voorval wat nie deel van jou plan was nie.
In my geval was dit die Lindt-dame in die supermark. Daar staan sy toe, vriendelik en pragtig geklee met die mooiste glimlag op haar gesig terwyl sy haar skinkbord vol blink Lindt-versoekings vir my aanbied.
Ek kon dit net nie weerstaan nie. Sal een ou sjokoladetjie nou regtig so ’n groot verskil maak?
Wel… as jy ek is, beslis.
Skielik het alles wat ek níé nodig gehad het nie, voor my oë verskyn. Vandag is in elk geval klaar daarmee heen, nie waar nie? My gunsteling sjokolade-brownies met die neute bo-op het my en my trollie tot stilstand geruk. Die vars gebakte ciabatta. Die aartappelskyfies wat ek vir weke lank nêrens kon kry nie. Dubbelroom jogurt. Allerlei luukse kaassoorte. Klein hoenderpasteitjies.
"Alles of niks" is my leuse.
En dan kom die skuldgevoelens. Waar is my selfbeheersing? Wat moet ek nou met al hierdie eetgoed maak? Ek kan onmoontlik só eet en dan nog oefen nie. Dalk moet ek maar net alles uitstel tot volgende week… ek kan tog nie toelaat dat al hierdie eetgoed tot niet gaan nie?
Dit het al telkemale met my gebeur. Ek ken die patroon. Ek jaag altyd perfeksie na. Ek floreer wanneer ek in beheer is. Ek wil vinnige resultate hê. En dan dwarsboom een klein glipsie alles. Dit is ’n patroon waarin ek al dikwels vasgevang was — iets waaroor ek ook in my blog Vasgevang in ’n ‘yoyo’-dieetsiklus? Jy is nie alleen nie geskryf het.
Maar die afgelope tyd… het iets verander. Ek is nie meer so rigied met myself nie. Die ongeskrewe reëls is steeds daar, maar hulle is nie meer so streng nie. Ek het begin besef dat konsekwentheid nie beteken dat jy elke dag perfek moet wees nie. Soms is dit juis die klein veranderinge wat die grootste verskil maak — ’n gedagte wat ek ook in Klein veranderinge, groot resultate ondersoek.
Deesdae sal ek steeds die sjokolade eet – maar in plaas daarvan om heeltemal tou op te gooi, sal ek bloot aangaan met my eetplan. Ek probeer deesdae eet vóórdat ek inkopies doen (moet nooit jou weeklikse inkopies doen as jy honger is nie — dit is ‘n resep vir mislukking).
Wees voorbereid. As jy jou eie patrone en snellers ken, kan jy aanpas. Vier die klein oorwinnings. Besef dat om iets te doen altyd beter is as om heeltemal op te gee. Laat jouself nou en dan ‘n bederfie toe — en beweeg dan aan. Om met bewustheid te eet, is ’n leefstyl, nie ’n straf nie.
Ek het nie al die antwoorde nie, maar ek leer elke dag. As daar weer ‘n struikelblok oor my pad kom, sal ek herbesin en voortgaan.
Onthou om goed vir jouself te wees — jy hoef nie perfek te wees om vordering te maak nie.
Wees eerlik… is jy ook ’n "alles of niks"-mens, of is dit net ek? Laat vir my ’n boodskap in die kommentaar, ek sal vreeslik graag van jou wil hoor.
— Frannie B. ☕
Het jy hierdie storie geniet? Ek deel gereeld vars inspirasie, slim oefenwenke en leefstylstories spesifiek vir vroue ná 50. Volg die skakel en stoor jou gunsteling artikels vir later!




Comments