Op 61 is ek nie besig om weg te kwyn nie. Ek is besig om te bou.

Dissipline of Straf? Ek leer nog steeds wat die verskil is.
Ek was vanoggend twee uur lank in die gym om my kardio- en weerstandsoefeninge te doen. Ek is nie juis nuut wanneer dit by oefen kom nie, maar ek weet ook hoe maklik goeie voornemens ná ’n paar maande stadigaan kan vervaag.
Maar noudat ek in my sestigs is, dink ek anders hieroor.
In die verlede was my mikpunt in die gym altyd om gewig te verloor. Hoe harder ek geoefen het, hoe beter het ek gevoel. Deesdae is mobiliteit, ’n sterk liggaam, balans en energie vir my soveel belangriker. En natuurlik wil ek ook so lank as moontlik onafhanklik wees.
Voordat ek vanoggend die huis verlaat het, het ek voor my hangkas gestaan en gewonder wat ek kon aantrek om myself slanker te laat lyk. Soos gewoonlik het swart gewen. Sommige ou gewoontes neem maar net langer om af te leer.
Ek het onlangs na ’n potgooi geluister waarin daar gepraat is oor die verskil tussen motivering en dissipline. Die aanbieder het beweer dat motivering ’n gevoel of emosie is – soos byvoorbeeld: Is ek vandag lus vir die gym of nie? Aan die ander kant is daar dissipline. Dissipline is nie ’n gevoel nie – dit is deel van jou menswees, jou daaglikse roetines en jou gewoontes. Dit is soos om elke oggend jou tande te borsel. Dissipline dra jou op die dae wanneer jy glad nie lus voel om gym toe te gaan nie. Dit gaan nie oor hoe jy voel nie; dit is in jou ingebou en werk outomaties. Jy doen dit net, sonder om met jouself daaroor te redeneer. Dit het my lank bygebly.
In die verlede het die meeste van my dissipline oor gewigsverlies gegaan, en om die waarheid te sê, het ek dit nie altyd op die gesondste manier benader nie. As drasties minder eet vinnige resultate gelewer het, was dit presies wat ek gedoen het. Lees gerus meer hier oor my ervaring met die ‘yoyo’-dieetsiklus, en hoe maklik dit is om in daardie patroon vasgevang te raak.
Deesdae gebruik ek daardie selfde vasberadenheid op ’n baie slimmer manier. Wat ek werklik van die gym geniet, is hoe ek voel wanneer ek daar uitstap. Ek voel positief en energiek. Ek voel sterker en tot soveel meer in staat. Dit voel of ek die wêreld kan aanpak!

Die StairMaster is steeds my nemesis. Gewoonlik ná so 15 minute begin my bene protesteer en my longe wil nie meer saamspeel nie. Die sweet loop in ’n klein straaltjie teen die masjien af. Maar steeds druk ek deur om my 30 minute te voltooi, want ek hou daarvan om meetbare vordering te sien.
Ek verhoog elke week geleidelik my spoed op die StairMaster. Onlangs was my VO2 max 39, wat blykbaar in die top-5% vir my ouderdomsgroep is. Ek was só trots op myself!
Ek was nog altyd streng met myself en het myself nog altyd gedruk om harder te werk of te presteer. Dit is maar net hoe ek funksioneer. Soms help daardie dissipline my om te groei, maar op ander tye besef ek dat ek besig is om myself te straf en te hard op myself te wees.
Daardie klein stemmetjie kom nou en dan te voorskyn en sê vir my dat ek meer kan doen, of dat ek al verder moes gevorder het. Die verskil is dat ek nou op ’n ander manier op daardie stemmetjie reageer. Ek oefen nie meer om maerder te word nie. Ek oefen slim. Ek oefen om sterker te word—nie net fisies nie, maar ook geestelik. Ek wil tot meer in staat wees. Ek wil aanhou bou aan ’n gesonde lewe, eerder as om bloot toe te laat dat die ouderdom sy tol eis.
Ek weet dat ek nie oornag groot veranderinge kan verwag nie en dat ek gedissiplineerd en getrou moet oefen. Maar saam met daardie dissipline moet ek ook sagter met myself werk.
Ek is regtig opgewonde om te sien waar ek oor ’n jaar van nou af sal wees. Om die waarheid te sê, was ek nog altyd mal oor ’n uitdaging! Toe ek my blog begin het, was dit ook 'n nuwe begin —jy kan hier meer lees daaroor.
Ek is nuuskierig — waarop fokus jy, of watter veranderinge maak jy om jouself beter toe te rus vir die toekoms?
— Frannie B. ☕
Het jy hierdie storie geniet? Ek deel gereeld vars inspirasie, slim oefenwenke en leefstylstories spesifiek vir vroue ná 50. Kliek op hierdie skakel en stoor jou gunsteling artikels vir later!



Comments