top of page

Klein Veranderinge, Groot Resultate

Writer: Frannie B
Frannie B
Nov 3
3 min read

Updated: Nov 4

(En waarom ek nie meer drastiese veranderinge maak nie)


Daar was ’n tyd toe ek geglo het dat enige verandering aan my gesondheid ’n behoorlike plan vereis het. Netjies uitgewerk in ’n Excel-tabel met kleurkodes, datums, teikengewigte en partykeer het ek dit selfs gelamineer.

 

Dit moes altyd op ’n Maandag begin. ’n Streng roetine met die emosionele uithouvermoë en dissipline van ’n Olimpiese atleet. Daar was geen ruimte vir foute nie. En natuurlik het ek teen Donderdag sigbare resultate verwag!



Wat ek destyds nie besef het nie, was dat ek nie misluk het omdat ek ’n gebrek aan dissipline gehad het nie. Ek het misluk omdat ek alles tegelyk probeer verander het, en natuurlik was daar geen ruimte om sagter met myself te wees nie. Hoe strenger ek met myself was, hoe gelukkiger was ek.

 

Drastiese veranderinge laat jou voel asof jy werklik iets bereik. Dit gee jou daardie aanvanklike hupstoot — die gevoel dat dit hierdie keer anders gaan wees. Maar drastiese veranderinge is uitputtend en onvolhoubaar.

 

Die probleem met drastiese en ingrypende veranderinge is dat dit op motivering staatmaak. En motivering is wisselvallig. Dit vervaag wanneer jy moeg is ná ’n harde dag op kantoor of wanneer jy ‘n besige huishouding moet versorg. Dit verdwyn wanneer jy baie hooi op jou vurk het en allerlei verpligtinge in jou dag moet inpas. En natuurlik verdwyn motivering heeltemal wanneer ’n vriendin jou nooi vir koek en tee!

 

Klein veranderinge, daarenteen, is eintlik vervelig. Dit lyk nie indrukwekkend nie. Dit lewer nie noodwendig goeie “voor en ná”-foto’s op nie. Dit gaan ook nie jou lewe binne sewe dae verander nie.

 

Maar dit doen iets baie meer waardevol. Mettertyd lei daardie klein veranderinge tot sigbare resultate. Dit gebeur stadig en rustig, sonder dat jy eers besef hoe daardie veranderinge deel van jou lewe geword het.

 

’n Tien-minute-lange stappie ná aandete. Om proteïene by jou ontbyt te voeg. Om dertig minute vroeër bed toe te gaan. Om ’n swaarder gewig op te tel as die gewig wat jy die vorige week kon optel.  Nie een van hierdie dinge voel drasties nie. Maar wanneer jy dit gereeld doen en dit geniet, verander dit die rigting waarin jou lewe beweeg.

 

Êrens langs die pad het ek besef dat ek nie meer uiterstes wil hê nie. Ek wil volhoubaarheid hê. Ek wil oor tien jaar nog fisies sterk wees en hope energie hê. Ek wil onafhanklik wees. Ek wil gewoontes aankweek wat deel van my lewe is — nie iets wat ek tydelik doen en dan los nie.

 

Die interessante ding is dat werklike veranderinge in jou lewe nie noodwendig beteken dat jy méér moet doen nie. Dit beteken dat jy minder kan doen, solank jy dit konsekwent doen. Klein veranderinge praat saggies met jou. En as jy bereid is om te luister, verander alles stilweg.

 

Miskien het dit nooit werklik oor dissipline gegaan nie. Miskien was die probleem dat ek te veel, te vinnig probeer doen het — en verwag het dat ek daarby sou kon hou.

 

Ek het oor die jare geleer dat verandering nie drastiese omwentelinge hoef te beteken nie. Dit begin juis by daardie klein, alledaagse aanpassings wat mettertyd ’n natuurlike deel van jou lewe word.


As jy my nog nie volg nie, kan jy hier lees waar my reis begin het in ’n Nuwe Begin.

 

Wat is die een klein verandering waarmee jy vandag kan begin, sonder om alles te oordink?  Dit sal vir my so lekker wees as jy dit met my wil deel!


— Frannie B. ☕


Het jy hierdie storie geniet? Ek deel gereeld vars inspirasie, slim oefenwenke en leefstylstories spesifiek vir vroue ná 50. Kliek op hierdie skakel en stoor jou gunsteling artikels vir later!


 
 
 

Recent Posts

See All
OM WEEREENS OOR TE BEGIN…

(vir die 47ste keer!) Ek is een van daardie mense wat altyd in beheer wil wees. Ek is altyd vroeg vir afsprake (mens weet nooit wat op pad soontoe kan gebeur nie). Ek besluit reeds die vorige dag wat

 
 
 

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
ChatGPT Image Jul 5, 2026, 01_41_44 PM.png

Enjoyed this story? Let's stay in touch

bottom of page